Kry nauw n knertsie

‘n Paar stories van Danie Krynauw (Daniel Elisa, geb. 10/12/1932)

NOSTALGIESE GEDAGTES

Die plaas, Rietkloof, het die Krynauw-familie saamgebind. Dit was op Rietkloof waar ‘n Republiek uitgeroep is, met Oupa Pieter as die ere-president. En die nefies en niggies wat gesing het:

“Ons eer, ons ere-President

Is hier op Rietkloof goed bekend …”

Oom Stephen en Tannie Sophey was soos magnete. Hulle was wonderlike, gasvrye mense.

Lampe en kerse. En water wat met emmers aangedra moes word.

Dorsvloer en koring uitwan.

In plaas van rys, is koring voorgesit. Hoe verlang ek nie om weer koring te kan eet nie. En spierwit botter wat self op die plaas gemaak is. En heerlike bokmelk.

Skaapslag was ‘n groot geleentheid. Ook seepkook.

Gert en Tempus was die karperde. Koffie was een van die donkies.

Teen die berg was ‘n rots. As jy met ‘n klip daarop gekap het, was dit net asof jy ‘n kerkklok gelui het.

Daar was ‘n grot en water het gedurigdeur in die grot gedrup om ‘n stroompie te vorm wat opgevang is. Pip Conradie en ek was eendag by die grot. Ons het ‘n windbuks by ons gehad. ‘n Paar kersogies het by die dammetjie kom waterdrink. Ek het enetjie geskiet en is tot vandag toe spyt daaroor. Ek is egter tot vandag toe trots op die muisvoêl wat ek in die boord geskiet het. Oom Stephen was baie bly toe hy die dooie muisvoël gesien het.

Pip en ek het op ‘n dag ‘n likkewaan in die veld gekry en doodgemaak en ons was baie in ons skik met wat ons gedoen het. Toe ons vir Oom Stephen die dooie likkewaan gewys het, was hy baie ongelukkig. Ou Oktober het die likkewaan afgeslag.

Om op die stoep te sit saam met die ooms en tannies en nefies en niggies en met Oupa en Ouma Krynauw, was wonderlik. Die land se probleme is almal opgelos. Hans van Rensburg, die O.B.-leier, is bespreek. Die Tweede Wêreldoorlog en die Russiese Beer is bespreek.

As dit volmaan was, het ‘n paar nefies en niggies saam met tannie Janet gaan stap. Van die ander nefies en niggies het met tannie Inez saam  gestap. Ons het wonderlike stories gehoor. Ons het saam gesing.

My broer, Pieter, en my susters, Ansie en Marina, en ek het die familie op Rietkloof geleer ken. Pieter het ‘n advokaat, LPR en LV geword.

Tannie Edie en Oom Koos Basson van die Paarl en hul kinders, Annatjie, Ester en Johan. Ons het hom altyd Apools genoem.

En tannie Agnes van Mochudi. Ek onthou nog al haar verhale van Mochudi.

Tannie Bessie het ek nooit geken nie. Sy is op 2 April 1935 oorlede. Haar seun, Quintus, was baie op Rietkloof. Ek dink sy doopnaam is Joshua.

Oom Pieter en tannie Lenie en hul seun, Pieter, het altyd op Alberton gewoon. Ek dink dit was Bergweg 41. Ons het oom Pieter altyd om Pet genoem.

Dan was daar tannie Anna en oom Stephanus. Hy het ‘n winkel op Beaufort-Wes gehad. Hulle twee was harde Ossewabrandwag-mense. Ek onthou dat die Kommandant-Generaal van die O.B. daar by hulle oornag het. Ek en Dr. Hans van Rensburg het in die spaarkamer geslaap. Oom Stephanus en Tannie Sophey was broer en suster.

Vanaf Heidelberg (Kaap) het oom Jim en tannie Susie gekom met hul kinders, Pieter, Nina en Japie en Annatjie. Oom Jim en Tannie Susie was ook in die onderwys. Hulle het ‘n Ford gehad.

Dan was daar my pa se suster, tannie Margery en oom Hoffie Conradie. Ook onderwysers, wat op Witbank gebly het. Villieria, Pieter (Pip) en Bets het ek baie goed geken omdat ek baie by hulle gaan kuier het gedurende skoolvakansies.

Tannie Lenie was ook ‘n onderwyseres. Haar seun, Pieter, het ‘n skoolhoof geword. Ek dink hy was die eerste Krynauw wat ‘n doktorsgraad behaal het.

Tannie Inez het in die Paarl onderwys gegee. Sy het ‘n Chev gehad. Tannie Janet was hoof van die Hoër Meisieskool op Oudtshoorn. Sy het jare met ‘n DKW gery.

Die jongste van die klomp Krynauws was oom David. Hy was met tannie Antoinette getroud en hulle kinders was Pieter, die bekende bankier, Antoinette, Annemarie en Hubert. Oom David was eers ‘n prokureur voordat hy kweekskool toe is.

Met so baie in die onderwys, was dit debatvoerings en konserte. Die nefies en niggies is, sonder dat hulle dit besef het, geleer hoe om voor mense op te tree.

En almal kon heerlik sing. Aandgodsdiens was ‘n belewenis met oupa Pieter wat nog Hooghollands gebid het. Sondae het oom David voorgegaan. Hy was predikant op, onder andere, Wynberg en Parys.

Die klomp neefs het in die somer onder die vyebome geslaap.

Daar was ‘n fontein met helder, skoon water en dan was daar ‘n dam wat groen was van die slyk.

Die honde was Wagter en Christine en Wolf.

Die oudste van die neefs en niggies is Pieter Hendrik, gebore op 18 November 1918 en getroud met Susie (Susan) van Graan. Oom Stephen en tannie Sophey se ander kinders was Andries wat met Elra getroud was. Andries is ‘n tyd gelede oorlede. Piet en Andries se jonger broer, Stephaans, woon in Pretoria.

Vroeër jare het my oupa en ouma Krynauw in Hillstraat op Beaufort-Wes gewoon. In die agterplaas was ‘n buitekamer en stalle.

Oom Stephen en tannie Sophey se twee perde het altyd daarin gebly as oom Stephen-hulle dorp toe gekom het. Later jare het hy ‘n ou bakkie gekoop wat Sallie genoem was. Ek onthou dat my broer, Pieter, en ek in die buitekamer geslaap het en dat Andries ons seker halfvier in die oggend wakker kom maak het. Dan was Tempus en Gert ingespan. Oom Stephen en tannie Sophey het voor op ‘n bankie gesit en Pieter en ek agter. Onthou hoe koud dit in die Karoo kan word !

Op pad Rietkloof toe. Verby die motel in die rigting van die lughawe, met Lemoenfontein aan die linkerkant. ‘n Ent verder aan het jy links afgedraai Rietkloof toe. Onder die berg (met, as ek reg onthou) De Jagerspas, moes die perde blaas. En ons het koffie gedrink en iets geëet. Ek kan nie meer onthou hoe ver Rietkloof vanaf Beaufort-Wes was nie. Ek skat so 35 myl. As jy deur die pas was, moes jy regs afdraai na Rietkloof. Daar was ‘n paal waaraan die possak gehang is.

Nuwejaarsdag is die klomp donkies ingespan en twee leunstoele is op die wa gesit vir Ouma en Oupa Krynauw. Die boere van die omtrek is op dié dag almal op Heuningneskloof. Ook 10 Oktober en 16 Desember was saam gevier.

DIE CONRADIES VAN WITBANK

My oom Hoffie en tannie Margery het onderwys op Witbank gegee. Hulle het op ‘n kleinhoewe ‘n paar kilometers uit die dorp op Klipfontein, ‘n melkery gehad.

Hulle het drie kinders gehad. Villieria en Pieter en Bets. Pieter en ek was ewe oud.

Hy het predikant geword en het in 1995 sy emeritaat op Marble Hall aanvaar. Bets is met ds. Kosie Barnard getroud.

Ek het elke Desember skoolvakansie by die Conradies gaan kuier en dit was vir ons twee seuns lekker om met die melkery te help.

Een jaar het ‘n pragtige jong man daar aangestap gekom en Pieter en ek het dadelik van hom gehou. Hy was ‘n rapsie ouer as ons. Ek dink hy was ‘n Sjangaan. Oom Hoffie het vir hom werk aangebied en mooi vir hom verduidelik wat sy pligte en loon sal wees.

Die volgende jaar toe ek weer op Klipfontein was, het Pieter en ek eendag ‘n vreeslike lawaai in die melkkamer gehoor. Ons het soontoe gehardloop – en dit het gelyk of die Sjangaan vir die saggeaarde Oom Hoffie te lyf wou gaan.

Dit blyk toe dat oom Hoffie vir hom gesê het dat hy baie tevrede met hom is en dat hy sy loon gaan verhoog. En hy het toe vir Oom Hoffie gevra wat hy nou ekstra moet doen. Toe Oom Hoffie vir hom gesê het dat hy niks ekstra hoef te doen nie, was dié pragtige jong man woedend: “Maar dan het jy my mos die hele jaar wat verby is te min betaal!”

‘N WARE STORIE

Esbé en ek was pasgetroudes toe my broer, Pieter, eendag by ons geëet het.

‘n Paar jaar later vertel Pieter toe vir ‘n klompie familielede dat die lekkerste frikkadelle wat hy in sy lewe geëet het, Esbé s’n was.

My ma het blitsvinnig gereageer: “Piet, jy was seker maar honger…”

‘n Mens kon die stilte met ‘n mes sny.

DIE BYBEL

My ouers het vir elkeen van ons kinders op ons sesde verjaardag ‘n Bybel gegee. Eerste het Pieter sy Bybel gekry. Toe ek en later Ansie en Marina.

Esbé en ek het dit ook met ons kinders, Danita en Danie, gedoen.

Ek het graag vir Danita “Pappa se Lallatjie” genoem. Dit was sommer net ‘n troetelnaampie. Maar vir die res van die wêreld was sy Danita.

Voor in haar wit Bybeltjie het ek geskryf: “Liewe Lalla, hierdie Boek sal jou weghou van die sonde, of die sonde sal jou weghou van hierdie Boek – Mamma en Pappa.”

Ek dink Danita was al ‘n skoolhoof op ‘n Bolandse dorp, toe sy een Sondag haar wit Bybeltjie in die kerk vergeet het. Niemand het geweet wie Lalla is nie.

Die volgende Sondag het die dominee vir die gemeente van die Bybel vertel wat in die kerk gekry is en dat niemand weet wie “Liewe Lalla” is nie. Hy het dwarsdeur sy preek gehoop dat die Bybel nie alleen vir Lalla nie, maar vir die hele gemeente van die sonde sal weghou.

OOM WILLIE KRYNAUW

My oupa, Pieter Hendrik Johannes Krynauw, is op 26 Junie 1861 gebore en is op 24 Mei 1886 op Beaufort-Wes in die huwelik bevestig met Anna Maria Retief de Villiers. Haar geboortedaum was 20 Oktober 1863.

Oupa Pieter het vier broers gehad. Daniël Elisa, Willem Johannes, Stephanus Johannes en Andries Stephanus. Ek het net vir Oom Willie en Oom Andries geken.

Toe ek in 1948 in Standerd 8 (vandag se graad 10) was, het ek vir “Verba”, die Hoërskool Sentraal op Beaufort-Wes se Jaarblad, iets oor Oom Willie geskrywe. Hier is dit:

My besoek aan Beaufort-Wes se Oudste Inwoner

Oom Willie Krynauw, Beaufort-Wes se oudste inwoner, het drie-en-negentig jaar agter die rug. As ‘n mens so ‘n gesprekkie met hom aanknoop, sou jy sê hy is sestig jaar oud, of jonger nog.

Dit was Vrydag, net na die Kadette-periode, toe stap ek na Oom Willie toe. Hy het op die stoep gesit, met sy hoedjie op sy kop, met sy eie gedagtes. Onwillekeurig het ek aan die spreekwoord gedink wat sê dat die jongelinge in die toekoms leef en die oues van dae in die verlede. Oom Willie leef in die verlede, die verlede van swaarkry en rype ondervinding. Diep ingedagte het ek hom aangetref en was spyt om hom te hinder, want waaroor sou hy dan gedink het – ek wonder.

“Middag jongetjie,” en hy neem my hand, “hoe gaan dit moe jy?” Hy maak vir my plek langs hom, hy het mos nou geselskap, en wat wil Oom Willie meer hê as geselskap. “Watse nuus het jy, of het jy nie?” “Niks vandag nie, Oom,” was my onskuldige antwoord, en sy antwoord was ook gereed, so ongeërg sê hy: “Maar hoor dit is baie om te beskrywe”. Toe eers merk hy my uniform met ‘n “ek sien jy is ‘n soldaat, as jy nie kan skiet nie is jy kwaad.”

Toe het ek die kans gekry om hom te vertel van ons Jaarblad, en dat ek graag ‘n artikeltjie oor hom en sy verlede wil skryf. Hy antwoord met ‘n verleë laggie: “Ek sal jou vertel, mits jy my dankie sê daarvoor.” Op my vrae het hy begin antwoord soos een wat trots is, trots op ‘n mooi verlede.

“Ek het na Beaufort toe gekom, nog voor jou geboorte, dit was toe ek ongeveer tien jaar oud was, presies dié tyd toe hulle besig was om die dam hier bo-kant te bou. Daardie tyd was hier net een winkel, hier in die boonste deel van die dorp. En bome, karee- en doringbome was toe veral volop, hier tussen die paar huisies wat toe hier gestaan het.” Hy kyk skielik na my “ek sien jy skryf af wat ek sê, jong skryf maar in “shorthand”, want ek vertel iets wat jul moet weet – hoe het Beaufort nou eintlik gelyk ? ”

Dit is toe dat die son my té skerp brand, dat ek ‘n bietjie opskuif en sê: “Die son brand, of liewer, bak ons lekker né Oom?” Ek sien toe dat my geskuif niks gebaat het nie, en ek kom maar weet langs hom sit, toe hy weer glimlaggend sê: “Maar kyk so ‘n son, hy is uitsoekering.” Hy hervat toe: In 1880 kom die trein tot op Beaufort – vandag is hy tot waar hy ophou. Ongeveer ook daardie tyd kry ons die Beaufort-Hotel. Snaaks hier was net een Jood hier in die kontrei, ou Marcus, en vir hom was hier nie eens ‘n “wife” nie. Die ou is tog darem met ‘n Skotse dametjie getroud. Natuurlik, waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie – so het hier ook lewe gekom – damme is gebou, putte is gegrawe en landerye is aangelê – ons het die wêreld vir julle begin bewoonbaar maak.”

Toe loop daar ‘n man met ‘n blou pak klere verby en die oubaas kyk hom aandagtig na. “hoe blouer hoe getrouer, ou Danie.” Maar dit het hom weer laat hervat met alle erns.

“Die eerste predikant wat hier was, wat ek van weet, was Willie de Villiers. Ons het hom altyd “blou Willie” genoem omdat hy so bruin was.”

Oom Willie put alles uit ‘n see van rype ondervinding. Grappige voorvalle onthou hy die beste, en een wat hy my vertel het, was van ou Fritz, wat nie al sy varkies gehad het nie. Hy kom ook dorp toe, en bly té lank op die dorp. By sy terugkeer het hy gesê hy het ‘n “job” gekry. Omdat die predikant, die koster en die kerkraad so bruin van gelaatskleur is, is die kerk so donker dat hy kerspitte moet draai om die kerk te verlig.

‘n Ander voorval wat Oom Willie nog goed onthou is van “die blacksmid, de Jager wat altyd snags water gelei het. Die vaak het hom dikwels so oorval dat hy ‘n plan moes beraam. Hy het sy een skoen uitgetrek, elke aand, en die water bo in die akker ingekeer, dan gaan lê hy en slaap op die onder-end van die akker met sy kaalvoet in die akker. Net as die wat sy tone raak, skrik hy wakker en keer die water weer in ‘n ander akker, en gaan slaap maar weer.”

Oom Willie het ook in 1880 toe, as ek reg onthou, die Basoeto-oorlog uitgebreek het, gaan veg met ‘n salaris van drie sjiellings per dag, onder die leiding van Komdt. “Duits” Rode. “Daar was tweeduisend van ons wat bereid was om ‘n end te maak aan die gedurige roof en plunder van swartmense.”

“So ver as ons gegaan het, het ons afgebrande huise aangetref, en oral rond op die gras was groot kolle, die geraamtes van die gesneuweldes, elkeen met ‘n koeël voor die kop. Ek het probeer om die beeste wat ons in drie dae se tyd weer afgeneem het te tel, maar dit was ontelbaar. Die land van die betrokke swart volk met sy groot houtbosse en uitgestrekte mielielande het die swartmense ‘n veilige toevlugsoord gebied. Bo-op die Drakensberge het die son altyd heerlik geskyn, terwyl dit onder jou reën en die weerligte die hele wêreld rondom jou verlig.”

“’n Geval wat ek nooit sal vergeet nie, was die keer toe ons kamp opgeslaan het en alles rustig was. In die skadu van sy tent het ‘n kêrel met sy rewolwer gesit en speel, toe die skoot skielik afgaan, deur sy vinger, deur ‘n bejaarde swart vrou se boud en deur die klein swart seuntjie wat op haar skoot gesit het, se groottoon.”

Toe lag die oubaas lekker, toe hy weer dink aan hoe die klein seuntjie geskree het.

“Wat het Oom daar te ete gehad?” was my volgende nuuskurige vraag. “Boeliebief en beskuit, maar sover ons gegaan het, het ons nogal baie beet, wortels en mielies gekry. En weet jy, op die berge was dit deur die jaar so nat, dat daar oral paddas en krappe rondbeweeg.”

“Dit het tyd geword dat ek sal moet gaan”, werp ek tussenin. Maar ek kon nie help om hom te bewonder nie – darem nog ‘n goeie geheue, ‘n goeie gehoor en ‘n goeie paar kykers. “Oom Willie is nog ons voorbeeld en ons sal probeer om op u spore te volg”.

“Ja, Danie, as ek neëntig aftrek van my ouderdom is ek nog jonk. Ek is my God dankbaar dat hy my nog gespaar het, dat ek nog my volle verstand het, en dat ek nie nodig het om die derde been te gebruik nie, of ‘n bril nie.”

My laaste vraag was: “Wat dink Oom Willie van die moderne nooientjie?” Hier is sy gepaste antwoord:

“Kaal van bene

Kaal van nek,

Kort van rokke

En ‘n sigaret in die bek.”

Beaufort-Wes sal hy seker nooit verlaat nie. Omtrent die dorp het hy geen kommentaar te lewer gehad nie, net dat dit van sy ontstaan af gegroei en gebloei het. Hy sing nog daardie egte ou boereliedjies, en daarby, hy sit elke Sondag in die Kerk – Beaufort-Wes se oudste inwonder is ‘n voorbeeld vir sy mede-dorpsbewoners.

KATKISASIE

My ouderdomsgroep het al ‘n paar weke gekatkiseer, toe ek besluit het om my by die groep aan te sluit. Ek is na Ds. J.A.C. Weideman, een van Beaufort-Wes se leraars, en hy het gesê ek moet maar na die klas toe kom.

By die katkisasieklas het hy vir die katkisante gevra of hulle beswaar sal hê as ek by hulle aansluit. Hy sê toe: “Ek sal darem eers sy kennis van die Bybel toets. Danie, wat is die elfde gebod?”

Ek het soos ‘n boek toegeslaan en hy sê toe dat daar net tien gebooie is.

Almal wat my ken sal weet dat daai dominee die verkeerde perd opgesaal het.

“Wel, ou Daan, kan jy vir my sê wat Moses in die leeukuil gemaak het?”

Ek: “Dominee, ek dink hy het kweperlatte daar gepluk om predikante wat sulke onnosele vrae vra, te foeter…”

Jare later, toe hy predikant op Durbanville was, het ek hom weer raakgeloop. Toe hy my sien, het hy dadelik gevra: “Ou Daan, wat is die elfde gebod…?”

PIET CILLIé

Hy was redakteur van Die Burger. Ek het hom jare gelede leer ken toe hy soms die orreltjie in Bloubergstrand se pragtige kerkie gespeel het. Hy het ‘n lieflike ou huisie op Bloubergstrand gehad en ek het soms daar by hom ingeloer.

Ek onthou dat hy eendag vir my vertel het dat daar vroeg in die 19de eeu ‘n verskriklike brand op Stellenbosch was. “Man, die dorp het amper afgebrand.” Ten tye van die brand was die predikant daar ene ds Borcherds. Die spesifieke Sondagoggend het ds Borcherds nie kerk toe gegaan nie. ‘n Ouderling is na die pastorie toe om vir die dominee te gaan sê die kerkgebou is vol gemeentelede. Hulle wag vir hom.

“Nee broer, vandag spreek die Here direk tot julle” het die dominee gesê.

Terloops, daar is oor ‘n lang tydperk van Piet Cillié as redakteur afskeid geneem.

“Man, dit laat my dink aan die man wat so lief was vir sy hond dat hy besluit het, toe die hond se stert moes af, om liefs elke week maar ‘n stukke af te kap”, het hy eendag vir my gesê.