Pa en ma

Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.

(Sy pa was Pieter Hendrik Johannes Krynauw, geb. 1861 en sy moeder Anna Maria Retief de Villiers, gebore 1863)

Anna Maria Retief de Villiers se skooldae

Ma het op driejarige ouderdom haar moeder deur die dood verloor. Na haar Pa se dood in ongeveer 1876, is Daniël Gabriël de Villiers en Benajmin Thomas Pritchard as Trustees aangestel en het ma by haar Oom in Matoppo House gaan woon. Hy het vir sy gesin ‘n “Governess” uit Engeland ingevoer ter wille van die kinders se Engels. Sy moes die kinders ook ‘n bietjie Frans leer, maar wat veral belangrik beskou was vir dogters was “goeie maniere” (deportment). Wat veral hierby te pas kom, is die aanleer van wat die gangbare drag vir ‘n dogter moet wees vir alle moontlike geleenthede.

In 1861, die jaar toe Pa gebore is, was daar in die distrik sewe privaat skooltjies. Drie van die onderwysers was Hollanders, onder andere mnr. Van der Bent – Pa-hulle se onderwyser; drie was Afrikaners en een ‘n Brit. Die eerste skooltjie op die dorp was die Orange Grove School for Girls, wat begin is in 1874 met mej Anne Murray Wilson, ingevoer uit Skotland, aan die hoof. Met die skool se finansies het dit sukkelend gegaan. Die erf was nog nie klaar betaal nie en ‘n aansoek aan die Departement vir hulp is deur Dr Dale van die hand gewys. Mej Wilson het ‘n jaar uitgehou en toe bedank.

In 1876 het Dr Andrew Murray op besoek aan die Verenigde State van Amerika daarin geslaag om mej. EA Cummings as onderwyseres vir die Orange Grove School te werf. Sy was dan ook Ma se eerste rêrige onderwyseres. Toe ek ‘n kind was, het mej. Cummings nog geleef, oud, klein, geboë, maar vir my was sy ‘n pragtige ou dame. Ma is later na ‘n Seminary in die Boland vir verdere opleiding, maar mej. Cummings het altyd ‘n besondere plek in haar hart ingeneem, ‘n “hot favourite”. In die Orange Grove skool het godsdiens (devotions) ‘n belangrike plek gekry wat nie die geval was in die Staatskole nie. Ma het nooit Hollands op skool geleer nie. Sy moes tog oor die weg kom met die ou Hollandse Bybel en na haar troue het sy met Afrikaans as huistaal volgehou. Veral later met Die Burger en Afrikaanse leesboeke het Afrikaans feitlik geheel die Engelse leesstof vervang. Net met haar susters is die korrespondensie deurgaans in Engels gevoer. Die Engelse invloed van haar opvoeding was aanvanklik baie sterk. Sy was byvoorbeeld baie hartseer toe die Engelse diens in die Kerk afgeskaf is, maar veral na die Anglo-Boere-oorlog het haar lojaliteit aan die Afrikanerstrewe nooit gewankel nie.

 Ma en haar susters se korrespondensie was altyd in Engels. Op skool het hulle nooit “Dutch” geleer nie. In 1935 is ons suster Bessie oorlede en Ma het van Tant Maria (haar jonger suster wat met pa se ouer broer Stephanus getroud was) ook ‘n briefie ontvang. Ek haal ‘n gedeelte daarvan aan om aan te toon hoe die Engels met die taal van die ou State-Bybel moes worstel:

“My dear Annie & Peter,

Yes, really it was a surprise to receive the sad news. We do feel with you, as twice we went through the same experience. It is an experience no one can understand except God who can comfort and give strength. Because I know in my own experience that not the truest friend or the sweetest word on earth can rleave the sorrows. I often could say (als Job: Och of myn verdriet recht gewogen wierde en men myne ellende samen in eene weegschaal ophieve, want het zou nu zwaarder syn dan het zand der zeën). God can give you strength to bear the burden and I am sure you will taste God’s sweetness in your sorrows.”

Dit is nie so maklik om oor pa en ma te skryf nie. Moeilik omdat hulle jou ouers was, moeilik omdat mens nie so geredelik die tyd waarin hulle geleef het in die huidige milieu in perspektief kan stel nie, moeilik omdat toe ek hulle leer ken het, hulle reeds so te sê op hulle “oudag” was. Toe ek 15 jaar oud was, was Ma reeds 60 en Pa drie jaar ouer. Daardie jare se mense het op die oog af gouer oud geword as die mense vandag. Hulle soort swaarkry was ‘n ander soort swaarkry as die wat ons ondervind. Beide het nogtans ‘n hoë ouderdom bereik. Pa 85 en Ma 86 jaar. Pa het in sy jong jare ‘n operasie aan sy knie moes ondergaan en operasies was in daardie dae ‘n ander storie as die van vandag. Die gevolg was dat die been so verswak was dat hy met moeite sonder kierie oor die weg kon kom. Hy was ook fisies nie so sterk soos sy broers nie, maar was tog ook nie sieklik nie. As Ma hom nie soms gedwing het om in die bed te bly nie, sou ons nie iets van hom oor wat pla verneem het nie.

Skool en kerk

Pa het op die plaas skoolonderrig ontvang van hulle privaat onderwyser mnr. Van der Bent. Een van laasgenoemde se seuns M M van der Bent was gedurende die jare 1912 tot 1914 orrelis van die NG Gemeente Beaufort Wes. Pa en sy broers se liefde vir sang en musiek het hulle dus heelwaarskylik van hulle onderwyser gekry. Vandaar dat hulle so mooi in “stemme” kon sing en dat hulle “note” kon lees. By die huisgodsdiens het Pa in die reël by Genesis begin en volgehou tot Openbaring. Veral as hy kom by die Psalms het ons dit soms maar moeilik gevind waar dié wysies vir ons onbekend was. Ook Ma het in hierdie opsig moeilikheid ondervind. Pa het dan so te sê ‘n solo gesing.

Van sy ouers en onderwyser het Pa seker ook inspirasie ontvang vir die studie van die Bybel. In sy jonger jare het hy groot genot geput uit Die Patriot en ook Ons Kleintjie. Later jare het hy Die Burger van hoek tot kant gelees. Ds. S J du Toit se geskrifte het sterk invloed op hom uitgeoefen maar hy het ook presies geweet waarmee hy nie saamstem nie. Hy en Ma het ook ander geskrifte soos dié van Dr. Andrew Murray gelees, maar sy belangstelling was eintlik nie om oor die Bybel te lees nie, maar in die Bybel. Sy geheue was merkwaardig goed. Hy kon ritse en ritse tekste kwoteer, maar nie sommer net lieflingtekste as sondanig nie, maar tekste wat met mekaar verband hou. Huisgodsdiens het hy nooit verwaarloos nie. ‘n Hoofstuk word voorgelees, dan die gebed en daarna ‘n Psalm of Gesangvers of verse. Hy en Ma het dan ook vroeg in die môre in die slaapkamer hulle goedsdiens gehou. Soms het beide aan die gebed deelgeneem.

Ma het ook Sondaemiddae meestal haar “stilte” gehou. Sy was veral lief om ou eksemplare van die Monthly Messenger te lees. Haar “Aunt” (Daniël Gabriël de Villiers se vrou) het dit vir haar gestuur en die blaaie het later los en verslete geraak.

Pa was lief om boeke oor ons geskiedenis te lees, maar J H H de Waal, Van Bruggen, C M van den Heever en veral Langenhoven was vir hom ook lekker leesgoed. Ma se voorkeur was deurgaan romans, maar dan net as die storie ‘n “happy ending” gehad het. Die twee moet mekaar vind en gelukkig wees anders hou sy nie van die boek nie. Hulle het ‘n hekel gehad aan oneerbiedige, growwe woorde of enigiets wat skurf is. Die probleem het vir haar gekom wanneer die storie ‘n geukkige afloop het, maar ook oneerbiedige of growwe woorde bevat. Haar bevinding was dan: “Dit is nou ‘n baie mooi boek. Daar kom ook ongeregtige woorde in voor, maar dié slaan ek oor.” Hierdie tendens veral by ouer mense vind ook bevestiging in ons biblioteek. Ek bemerk veral dat die boeke met groot druk, dat die naam van die Opperwese of deurgehaal of omsluit word tussen hakies.

Toe ons ouers later nie meer die Kerkdienste kon bywoon nie, het hulle na die Kerkdienste oor die radio geluister. Daarvoor word die “Sondagklere” aangetrek en met Bybel en Gesangboek het hulle deel gehad aan die diens. Ma het ook gesorg vir die kollektebussie. Die opbrengs word dan van tyd tot tyd aan die diaken oorhandig.

Die Anglo-Boereoorlog

Die Anglo-Boereoorlog het ook vir inwoners van Beaufort-Wes soms wrange vrugte meegebring. Hoewel ver verwyder van die oorlogstonele, is daar ‘n diep kloof geslaan tussen Afrikaners, enerstyds, en veral Engelsgesinde Afrikaners andersyds. Sommige boere het swaar verliese gely – enkele soos Pa het alles verloor. Ons ouers was destyds op ‘n plaas op die Nuweveldberge. Ten einde die bergpas te bewaak, het die Engelse bo-op die berg ‘n fort gebou en waar ons ouers gewoon het , was die naaste plaas aan hierdie fort. Die fort was beman deur ‘n aantal basters van die Town Guard. Op ‘n dag daag hulle op en Pa word taamlik hardhandig deur hulle gearresteer. Pa was iewers in die veld met die vee doenig en Ma het haar koud geskrik toe die aanvoerder haar toeroep: “Waar’s jou man, vandag skiet ek hom vrek”. Ma het tussen hulle ingeloop tot waar sy ‘n blanke gesien het en hom op Engels gevra wat aangaan. Hy het saggies aan haar gesê: “Lady don’t worry, he has no right to shoot your husband”. Ek weet nie presies wat die afstand is van die plaas na die dorp nie, maar ek skat dis minstens 40 kilometer. Hulle het hom laat stap tot in die dorp – voor die perde – en vanweë die swak been moes dit vir hom baie vermoeiend gewees het.

Hulle het ook ons oudste broer, destyds 14 jaar oud en twee Kleurlinge beveel om saam te gaan – blykbaar om stawende getuienis vir die klag uit hulle te pers. My broer het my vertel dat toe hulle al ‘n endjie op pad was, Ma agterna gekom het met ‘n bondeltjie komberse en iets om te eet. Daaroor was hy baie bly veral omdat hulle hom saam met die twee Kleurlinge in een kamer aangehou het. Die plek van aanhouding is vandag nog daar. Dit is ‘n met klipgeboude tweeverdieping huis reg oorkant die Royal Hotel in Donkinstraat. In my tyd was dit ‘n gewone woonhuis met ‘n anneks wat as aparte woning gedien het met die naam Clyde House.

Die aanklag teen Pa was dat hy skuiling en herberg verleen het aan Boere soldate. Hy was vir drie maande in aanhouding en by verskillende geleenthede moes hy voor kom vir verhoor, maar sy skuld is nie bewys nie. Dit spreek boekdele vir daardie twee Kleurlinge dat hulle nooit geswig het nie – maar deurgaans volgehou het dat die aanklag nie waar is nie. Mens wonder hoeveel druk hulle moes weerstaan. Al is die skuld nie bewys nie, moes Pa vir nog drie maande parool op die dorp bly en eenvoudig net self voorsien vir sy verblyf onderhoud. Daarna moes hy terugstap na die plaas toe.

Gedurende die oorlog was dit oral ‘n probleem, want beide Engelse sowel as Boere het op plase opgedaag en eenvoudig na hartelus kommandeer wat hulle wou hê. Hierteen was die boer immers weerloos.

Gevolge van die oorlog

Nadat Pa terug was op die plaas, het dit dan ook gebeur dat ‘n aantal boere soldate daar opgedaag en hulle vir ‘n tyd lank daar skuil gehou het. Toe hulle vertrek, het die aanvoerder vir Pa gesê: “Nou kan Oom ons maar rapporteer by die Engelse”. Pa se antwoord was: “Ek het reeds straf uitgedien terwyl ek onskuldig was, nou kan hulle my maar straf as ek skuldig is”.

Op die plaas was alles kaal gestroop. Daar het nie eens ‘n lewendige hoender oorgebly nie. Toe Pa vir die aanvoerder by die Fort vra wat hom nou te doen staan want sonder trekdiere kan hy nie voorrade van die dorp haal nie en of sy vrou en kinders dan moet sterf van honger? Later het hulle ‘n klompie donkies na die plaas gebring. Die donkies was in ‘n haglike toestand, besmet met mensluise. Dit het ‘n gesukkel en ‘n gedokter gekos om hulle in ‘n toestand geskik vir werkverrigting te kry.

Flou donkies en die teken

Hierdie donkie-storie het ‘n nasleep gehad waarna Pa, na my wete net eenkeer verwys het en dit was slegs sydelings omdat hy oor Jephta en sy dogter iets wou verduidelik. Toe die donkies min of meer gereed was vir diens, het hy hulle ingespan aan die wa om in die dorp voorrade te gaan oplaai. Op pad terug het hy besef dat die donkies te swak was om die wa berguit te trek. Hy het dan ook uitgespan en die nag daar oogebly. Daardie nag het dit sterk gereën en hy het besef dat as hy tot die Maandag moet oorbly, dit vir hom groot probleme kan meebring. Ma het destyds ‘n kind verwag en die onrus oor haar en die kinders het aan hom geknaag. Vir hom was daar net een moontlikheid en dit is gebed. Die nag was donker en die reën het al meer neergestort. Toe hy neerkniel het hy die Here gevra vir ‘n teken. As hy opstaan van die gebed en die son skyn, sou hy dit as ‘n teken aanvaar dat hy op die Sondag maar mag inspan en verder ry. Hy vertel dat toe hy opstaan was daar ‘n effense opening in die wolk waardeur die son vir ‘n paar oomblikke deurgestraal het. Onmiddellik daarna het dit toegetrek en na die tyd het dit gereent. Hy het dit nie vertel ter wille van die gebeurtenis self nie, maar om te beklemtoon dat dit ‘n eenmalige daad was, geneem in die uiterste nood – maar dat hy dit nooit weer sal doen nie. Ek dink dit het hom gepla enersyds vanweë die geringheid van die mens teenoor sy Skepper en andersyds dat die mens aangewese is om self ‘n verantwoordelike besluit te neem. Die Goddelike genade gaan oor dit alles.

Eerw. Izak Murray se lewe word gespaar

‘n Aangehoudene saam met Pa in Clyde House, was Eerwaarde Izak Murray en hy het ter nouernood met sy lewe daarvan afgekom. Wat die aanklag teen hom was, weet ek nie of dit bewys is en hoe swak of goed die bewysgronde was, weet ek ook nie. Maar inderdaad is hy tot die dood veroordeel. Pa het vertel dat met die verhoor het hy verseg om sy hoed af te haal. Dit was glo baie potsierlik dat as die hoed van sy kop geklap word, het hy net maar gebuk, die hoed opgetel, afgestof en weer op sy kop gesit met die woorde: “Ek haal nie my hoed af vir ‘n Kakie nie”. Of dit hierdie uittarting was wat hom die wrewel op die hals gehaal het, weet ek nie, maar inderdaad is ek seker dat hy daardie houding nie sou ingeneem het as hy aan iets erger skuld gehad het as die feit dat hy ‘n warm hart gehad het vir die Boer wat veg vir die behoud van hulle land.

Sy seun, Ds Paul Murray, het toe hy aan die hoof gestaan het van ons Kerk se Sending op Mochudi, my meer vertel oor wat met sy Pa gebeur het. Ek het ‘n paar dae op Mochudi deurgebring in verband met die begrafnis van ons suster in 1944. Ek vertel maar net die afloop van die storie. Nadat Generaal Smuts se vrou verneem het van die doodvonnis wat op Eerwaarde Murray voltrek sou word, het sy aan Lord Kitchener ‘n brief geskryf. Onder andere het sy daarop gewys dat Eerwaarde Murray ‘n dienskneg van die Here is. Die Afrikaner stel geloof en godsdiens baie hoog. As die vonnis voltrek sou word, sal die Engelse ‘n skande oor hulself bring wat die Afrikaners hulle nooit sal vergewe nie. Hulle sal nog eerder die Konsetrasiekampe vergewe – maar nie die voltrekking van die doodvonnis oor ‘n onskuldige dienskneg van die Here nie. So is sy lewe gespaar.

Boerdery

Pa was seker nie juis ‘n knap boer nie. Sy belangstelling was nie daar nie. Hy moes kon studeer het sodat sy lewe ‘n ander koers kon neem. Daarmee gepaard het die een ramp en terugslag hom ook getref in die tydperk na die oorlog. Droogtes, skade deur hael, kapok in Desember met ysige koue nadat die skape geskeer was. Dit is ‘n tema met variasies wat eie is aan ons geskiedenis:

“Vanmelewe het daar ‘n boer gewoon

Toe kom daar ‘n groot droogte aan

En sy vee vrek hot en haar

Die maande kom en die maande gaan

Maar die reën bly ver vandaan

Die hael die sous en die water giet

Op smeulend vuur van die koringmied

Dit is die lied van die koringboer

Wat die hele jaar se gesaaie

Sy brokkie brood en sy vee se voer

Sien vergaan in’t ligte laaie”.

Geleerdheid

Wat andersyds ook geknel het, was die voorsiening van geleerdheid vir hulle kinders. Hulle moes beter toegerus word vir die lewe as wat met ‘n plaasonderwyser moontlik is.  Op die dorp het hy met groot gesukkel ‘n melkery aan die gang gekry. Van die Munisipaliteit het hy ploeglande gehuur waar hy voer kon kweek vir die diere en groente ens. Vir die huis en die mark. Hierdie landery was ongeveer twee myl ver van die huis geleë en nie ver van die lokasie nie – dikwels is hom skade aangedoen.

Maar wat belangrik is, die kinders was in die skool – ook maar net die laaste ses was op Beaufort-Wes op skool.

Byname

Ek weet nie of van die Krynauws ook byname gehad het nie. Ma se ouma was Retief en dit het aan die familie twee byname besorg, naamlik “Tiffie” en “Stokkie”. Tant Maria se seun se naam was vermoedelik: Gideon de Villiers Retief en die “tief” het op die een of ander manier verander na “Tiffie”. Die omgekeerde het gebeur met Ma se neef – Retief de Villiers – die vader van Ds. Paul Retief de Villiers verbonde aan die Radiodiens in Zimbabwe. Toe hy klein was het hulle hom “Rietie” genoem, maar toe hy groot word en ontwikkel tot ‘n kranige middelafstand atleet het “Rietie” verander na “Stokkie”.