Ooms en tantes
Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.
(Hy skryf oor sy ooms Willem Johannes Krynauw, geb. 1855 en Stephanus Johannes, geb. 1857)
Oom Willie
Van kleins af het ek aangetrokke gevoel tot hierdie Oom Willie van my. Nog voordat ek op skool was, het ek soms vir lang tye by hom op die plaas gaan kuier. Ek onthou die dag op die ploegland toe ‘n volstruis op my afgestorm het. Gelukkig het Oom Willie die petalje betyds gesien. Hy het self as’t ware die volstruis bestorm en van my weggekeer deur die sweep om sy nek te slaan. Dit was darem seker ‘n noue ontkoming. Ek was kaalvoet en die land was besaai met dubbeltjies.
Pa en die drie broers van hom, wat ek geken het, het baie in geaardheid verskil, maar daar was ook baie wat hulle gemeen gehad het. Al vier was baie lig van gelaatskleur, met rooierige hare en ‘n bokbaarjie. Pa was die enigste wat later ‘n bietjie yl op die kop geraak het. Die ander drie, hoewel die hare later dun en min geword het, het tog nooit ‘n pan ontwikkel nie. Tot hulle dood is nie een van hulle met ‘n boepie gepla nie.
Hulle was diep godsdienstig, lojaal aan kerk, volk en taal, maar hulle was ook nie dwepers en napraters nie. Toe kelkies ingevoer was by die Nagmaal, was Pa nie baie gelukkig nie. Dit was egter nie soseer die beginsel waaroor hy gesteurd was nie, maar argumente wat veral van mediese kant aangevoer is ten gunste van die gebruik van kelkies, het hom diep gepla. Nie een van die broers was seker ooit in ‘n hotel nie en nie een het gerook of tabak gebruik nie. Ek het ook nie gehoor dat hulle van ander kwaad praat nie. ‘n Fyn grappie kon hulle geniet, maar aan growwe taal en ligsinnige praatjies het hulle ‘n hekel gehad. As daar destyds van der Merwe-grappies was, sou Oom Willie seker daaraan kon toevoeg. Die naaste daaraan was die lied:
“Ou van Schoor was omtrent die lelikste ou man
Wat ek ooit gesien het – en sy bek as dit rek
Kan jy sy ingewande sien deur sy nek,
Hy sal helfte van sy rykdom wil gee
As die kinders maar net wil ophou met skree –
Watter bek, watter bek, watter vreeslike bek.
En sy ou vrou dis waar, bly nagte soner slaap
In die middel van die nag as die dier begin te lag
Kan jy die mure van die huis hoor kraak.”
In my kinderdae het ek Oom Willie nie net die liedjies hoor sing nie, maar ook op sy viool hoor vrolikheid maak as die jongmense dans. Selfs Pa het glo die Engelse konsertina laat praat. Blykbaar het hulle nie self gedans nie, maar by sulke vrolikheid tog help musiek maak. Op sy oudag het ek Pa nog Sionsliedere op die klavier hoor speel – hoewel met stram, bewerige vingers.
Die meeste van die liedjies wat Oom Willie opgesê of gesing het, was waarskynlik geput uit Die Patriot of Ons Kleintjie, maar hy was self ook rymelaar by uitenemendheid. Van omtrent enige gebeurtenis word ‘n rympie geprakseer en kon hy die koddige daarin uitlig en weerspieël. Eienaardig, hy het sy vindsels nooit neergeskryf nie, maar as die herinnering die gebeurtenis weer opdiep kon hy die rympie ook weer herhaal. Oom Willie was die eerste mens wat ek hoor jodel het:
“Ek ry op ‘n donkie en die veld is maar skraal
Ek kom uit my land en ek veg vir Transvaal
A joerel-a-é, al jorel – a – ei
A joerel – a. a joerel – a joerel –a – dei”
‘n Lied wat hulle ook lief was om te sing was:
“Die Boere gaan nou ry,
Met ‘n Mauser aan hulle sy
Appel – joepel, appel-joepel, appeldei
Maar nou sal hulle hoor
Van vernieling aan die spoor
Appel-joepel, ens.
Farewell Kakie, farewell Kakie
We’re off to seek the enemy
Farewell, farewell, farewell
Vir die Boere is die Kakie geen man nie
Op die water kan julle raas
Want daar is julle baas
Appel – joepel ens.
Maar op ons grond,
Sal julle vrek soos ‘n hond
Appel-joepel ens. en Farewell Kakie”
Lank voordat daar ‘n F.A.K. sangbundel was, het hulle die liedjies gesing: “Waar het jy daardie hoed gekry, waar kry jy daardie keil” en van “Die ou heer Wilson” en “Die Kat kom weer en hy willie langer wag”.
Ek dink die volgende liedjie was seker maar een van Oom Willie se eie maaksels:
“Ou Rooivers het gesê sy maag is tog nie reg
President Steyn stem in, ons gee hom olie in
Kom burgers wees getrou dat ons die ou vashou
Die einde is naby dat hy weer maagpyn kry”.
As jong man, ongeveer 1880, is Oom Willie opgeroep om aan die Oosfront militêre diens te verrig. In die grensdistrikte is die boere swaar verliese toegedien deur swartes wat in die nag plundertogte uitvoer, huise afbrand en vee wegvoer. Oom Willie is te perd na Graaff-Reinet waar die Kommando saamgestel is. Hulle het Ooswaarts beweeg, maar nooit werklik met die swartes kon slaags raak nie. Die bome en plantegroei was glo destyds so dig dat die swartes, soos hulle terugtrek, genoeg skuilings en wegkruipplekke gehad het om die boere te ontwyk. Blykbaar het die Kommando Oos-Londen bereik sonder slag of skoot. Vanaf Oos-Londen is hulle per skip na die Kaap waar die Kommando ontbind het. Blykbaar is Oom Willie te perd terug na Beaufort-Wes. Hy het darem ‘n maat gehad, ‘n mnr. Jacobus Marais, ook van Beaufort-Wes. Hierdie Marais-familie van Beaufort-Wes het ons as kinders baie goed geken.
Veral was die broers lief om Psalms, gesange en liedere uit die ou Kinderharp te sing – meerstemmig, sopraan, tenoor en bas. Vir my was dit ‘n belewenis om na hulle sang te luister – veral as hulle as ou grysaards die aandgesang sing: “Dank Vader, dank, en eens aan de avond van my leven….”
Pa se broers het almal hoë ouderdomme bereik. Toe Oom Willie op 97-jarige leeftyd gesterf het, was die Predikant met die aanwesige familie by sy bed. Kort voordat hy gesterf het, het hy die oë oopgemaak en gevra dat hulle ‘n lied moes sing. Blykbaar was hulle so bewoë dat hulle nie bra kon sing nie. Na ‘n stilte het Oom Willie self – sag maar tog helder weggeval met “Kom treën wy dan bemoedigd voort”en so met ‘n lied het hy heengegaan. Oom Willie was 97 jaar toe hy gesterf het. Oom Andries 94, Oom Stephanus 82 en Pa 84.
Oom Stephanus
Ek het Oom Stephanus net by ‘n paar geleenthede gesien. In sy jonger jare het ‘n Kleurling hom met ‘n knopkierie op die kop geslaan en die skedel moes met ‘n staalplaat bedek word. Gelukkig het dit hom nie baie geskend nie omdat daar selfs op hoë ouderdom nog genoeg hare was om die letsel te bedek. Hy was goed bedeeld wat liggaamsbou en voorkoms betref. Ek onthou hom met sy spierwit hare en bokbaardjie, ‘n penregop postuur, statig en waardig, maar ek onthou veral sy mooi basstem. Vir Tant Maria het ek nooit gesien nie. Hulle was beide doodgoeie gelowige mense, maar in later jare het hulle nie meer saamgeleef nie. Die huwelik is egter nooit ontbind nie. Vir Pa en Ma was die vervreemding wat ingetree het altyd maar ‘n oorsaak van groot hartseer. Hulle het net maar vermy om daaroor te praat en die wedersydse lojaliteite, moontlik swaar beproef, is nooit versteur nie.