Danie Krynauw aantekeninge 1986
Die volgende is uittreksels uit aantekeninge van Danie Krynauw, Herbertstraat, Bellville, gedateer 1 Desember 1986. Datums bygevoeg vir verwysing na die Familieregister.
Na die eerste jare aan Kaapstad en omgewing het van die Krynauws uitgewyk na veral Swartland en Suid-Westelike distrikte en later Beaufort-Wes en hiervandaan versprei oor die land.
Daar sal opgelet word dat die naam Chiappini dikwels in die register voorkom. Ondersoek het aan die lig gebring dat Antonio Chiappini, die stamvader van die bekende Kaapse Chiappini familie van ouds, in 1797 in die Kaap aangekom het. Daar is tans nie meer Chiappinis in Kaapstad nie, net ‘n straat met die naam. Klaarblyklik is ‘n Krynauws een of ander tyd met ‘n afstammeling van die Chiappinis getroud – heel moontlik Johannes , geb 1756 of sy seun Johannes Hendrik, geb 1814.
‘n Baie interessante familievertakking is die geval van Anthony Dawid gebore 20.9.1816 se vyf kinders. Die een dogter Elisabeth was getroud met Sir Richard Southey, destyds Koloniale Sekretaris asook Goewerneur van Griekwaland-Oos. Susanna was getroud met Sir Charles Bell, Landmeter-Generaal van die Kaap. Antoinette was getroud met D. Walker, orrelis van die Grootte Kerk. Op die huwelik van Johannes met Elisabeth Bowman was Cecil John Rhodes die strooijonker. Daniel was Bell se opvolger as Landmeter-Generaal. Anthony Henry se seun Dr Rowland, A Harold Krynauws was die bekende brein-chirurg van vroeër.
Sir Charles Davidson Bell (na wie Bellville vernoem is) was van 1848 tot 1872 Landmeter-Generaal. Hy was grootliks daarvoor verantwoordelik om die familiewapens te bepaal. Hy was bygestaan deur Daniel Krynauw wie die werk voortgesit het na Bell se vertrek na Skotland. Daniel word in 1901 Landmeter-Generaal en sy broer Johannes Coenraad was boekhouer in sy kantoor.
Hierdie Krynauws was die eienaars van Krynauws Hof waar die woonstelblok Krynauwshof en Krynauwstraat tans in die Tuine, Kaapstad geleë is. Ook in Kimberley is daar ‘n Krynauwstraat genoem na Daniel en heelwaarskynlik met Rhodes se invloed. Hierdie Krynauws is begrawe in die ou Mowbray-begraafplaas naby Kaapstad. Daar is egter nie ‘n Krynauw familie-grafkelder soos sommige meen nie.
Die dorp Vrede in die Vrystaat is in 1879 aangelê op die plaas “Krynauwslust” wat vroeër aan ‘n J.H. Krynauw behoort het. Hy het verongeluk onder ‘n wa met osse en daarna het sy weduwee die plaas verkoop aan ‘n Dreyer en sy het toe verhuis na die Kaap Kolonie. Dit is nie bekend of daar kinders was nie. Later is die plaas verkoop aan ‘n Orpen van wie die plaas deur dieowerheid gekoop is vir die aanlê van die dorp. Daar kan nie vasgestel word wie hierdie J.H. was nie ook nie wat sy volle voorname was nie. Hy het ‘n hele tyd voor 1879 die plaas besit want daar was verskeie ander eienaars na hom. Nie een van die Johannes Hendrik Hermanus wat aangeteken is op die register kan hierdie persoon wees nie. Nou wie was hy dan? Dit is die raaisel wat nog moet opgelos word. Indien enigeen iets hieromtrent weet kan hy/sy gerus laat weet. (Volgens een van ons bronne was dit Johannes Hendrik, geb 1814 en oorlede 1891)
Daar is die storie, waar of nie, van ‘n blou Hollandse porseleinskottel vol ou geldstukke wat as erfstuk van geslag tot geslag in die Krynauws familie bemaak moes gewees het. Dog die skottel het op ‘n stadium skielik spoorloos verdwyn. ‘n Mens wonder of êrens ‘n Krynauw die skottel nog besit. Indien so, bly liewers stil anders eis ons ander Krynauws almal dit op.
En wat van die honderd pond wat ‘n sekere Krynauw baie jare gelede in Holland vas belê het vir een honderd jaar as erfstuk vir sy nageslag. Sal daar in die hele Holland genoeg bymekaar geskraap kan word om die belegging uit te betaal? En het iemand dit al probeer opeis?
Toe Dawid Antonie (gebore 15.6.1882) twaalf jaar oud was ,is sy vader Jacob Daniel oorlede. Daardie nag het hy man alleen met ‘n perdekar sy vader se oorskot van die plaas na Malmesbury vervoer.
Johannes Hendrik (geb 1890) en sy broer Jacobus Cornelius (geb 1888) was in 1914 onder die laaste ses rebelle wie onder wapen oorgegee het. Hierdie ses het later in dieselfde tronk beland in Hoopstad. Dit was na Jopie Fourie se teregstelling. Johannes was nie tevrede met die tronkkos nie en gaan toe op hongerstaking totdat Gen. Louis Botha hom laat weet het dat hy nie sy hande gebind wil hê nie en ook nie verdere bloedvergieting nie. Johannes kry daarna dubbele rantsoen en na sy ontslag trou hy met Anne Robinson, ‘n afstammeling van die 1820 settelaars en wie se broer aan regeringskant geveg het. Hulle sou trou net voor hy gerebelleer het en sy het toe al die tyd vir hom gewag.