De Villiers familienaam- herkoms
Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.
(Sy moeder was Anna Maria Retief de Villiers, gebore 20/10/1863)
Herkoms
Die familienaam is waarskynlik afgelei van die woord Villaris of Villare. In die Middeleeue het hierdie woord die betekenis gehad van ‘n gehug. Oorgedra op die mense wat de Villiers geword het, sou dit die betekenis kry van mense wat in die dorp woon – soos die Engelse Village.
Die drie broers wat hulle in Suid-Afrika kom vestig het, naamlik Pierre, Abraham en Jacques was Franse Hugenote, afkomstig van La Rochelle. Hoe moeilik dit ook al vir die broers moes gewees het om in ‘n vreemde wêreld ‘n bestaan te maak, het hulle tog goed daarin geslaag. Wat meer is, hulle het van die aanvang ‘n belangrike rol vervul in die samelewing maar veral in die Kerklike lewe. Op 28 November 1689 het Ds Piere Simond ‘n versoek aan die Politieke Raad gerig met die oog op die stigting van ‘n eie gemeente. Ds Simond se deputasie het bestaan uit Abraham de Villiers en nog drie ander. Die versoek is geweier, maar later is tog verlof ontvang en in 1691 is Abraham as diaken gekies en ook as Heemraad. Dit is betekenisvol dat Abraham geen De Villiers nakomeling het nie, maar vier van sy dogters het tog stamouers geword van bekende families soos Bosman, Faure, Ackerman en Schabort. Dit is betekenisvol dat Pierre ook die Drakenstein gemeente gedien het as ouderling reeds vanaf 1691. Met die hoeksteenlegging van die kerkgebou was hy teenwoodig as rustende ouderling en hy en sy vrou is later op die terrein van die Strooidakkerk begrawe.
Kampvegters vir die regte van die Koloniste
Van vroeg af reeds was van hulle nakomelinge kampvegters vir die regte van die Koloniste. In 1779 byvoorbeeld het die heemraad Jan de Villiers en ‘n paar ander by die Politieke Raad aansoek gedoen vir verlof om ‘n Deputasie na Nederland te stuur ten einde besware van die Koloniste direk aan die Owerheid oor te dra. Toe verlof geweier is, het die beswaardes op eie houtjie’n deputasie bestaande uit vier persone na Nederland gestuur. In 1784 kom sy naam weer voor as lid van ‘n deputasie. Dieselfde De Villiers was in 1793 ook een van die Graaff-Reinetters wat teen landdros Maynier in verset gekom het. Gedurende die 19de eeu het baie van hierdie familie ook Engelse beïnvloeding ondergaan. Dan vind mens ook name soos Sir John Henry de Villiers, die latere Baron van Wynberg. In 1837 is ‘n sekere John George de Villiers aangestel as die eerste President-Magistraat van Port Elizabeth.
Al die de Villiersfamilies in Suid-Afrika het dus afgestam van twee van die drie broers, naamlik Pierre, getroud met Elizabeth Taillefer en Jacques getroud met Marguerite Gardiol. Dit skyn egter asof Jacques verreweg, wat getalle betref, die grootste bydrae gelewer het. Jacques de Villiers en Marguerite Gardiol het 11 kinders gehad: Jean 22 kinders, Izak 15, Jacob Nicolaas 17, en David 15. David was egter getroud met Madeleine, die dogter van Pierre en Elizabeth Taillefer.
Laasgenoemde se seuns Pierre getroud met Hester Melius (6 kinders), Jean getroud met Hester Melius, dogter van Piere se vrou (6 kinders). Die enigste ander seun Isaak was getroud met Maria van der Heever, maar blykbaar het hulle nie kinders gehad nie. Twee van Pierre se dogters is ook nooit getroud nie. Ons familie van Moederskant het afgestam va Pierre se seun Jean, getroud met Hester Melius (junior). Dit is egter goed om Pierre se geslag in perspektief te bring. Die oudste seun was Pierre (1695) en getroud met Hester Melius, nee Roux. Hulle seun Pieter de Villiers is op 17 Maart 1756 getroud met Helene Basson. Hy hertrou op 30 Januarie met Johanna de Villiers, die kleindogter van Jacques de Villiers en Marguerite Gardiol. Haar ouers was: Abraham de Villiers 2.10.1707 getroud met Susanna Joubert op 20.5.1735 hertrou 31.11.1737 met Johanna Lombard. Sir John Henry de Villiers het afgestam van Pieter de Villiers en Johanna de Villiers. Pieter se sewentiende kind was Jacob Nicolaas de Villiers 26.11.1786. Hy was getroud met Susanna Margaretha Bernharde. Hulle seun Carel Christiaan de Villiers 26.10.1811 is op 8.12.1834 getroud met Dorothea Elizabeth Retief. Hulle vierde kind was John Henry, die later hoofregter en Baron van Wynberg. Hulle sewende kind was Melius de Villiers, die latere hoofregter van die O.V.S.
Daar is ‘n skinderpraatjie verbind aan Pieter met betrekking tot sy vrou Johanna. Die storie is dat hy haar in 1788 verkoop het. ‘n Ander gegewe sê dit was 1798. Laasgenoemde gegewe is ook ‘n aanduiding van die “skinder” in die storie, want Pieter is in 1789 dood. Johanna hertrou op 27.5.1793 met Abraham de Clercq. Hy het veel later as die De Klerkfamilie na die Kaap gekom uit Amsterdam.