Onderwys in die Pioniersdae
Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.
Dit is moeilik vir ons om vandag (1987) ‘n denkbeeld te vorm van die omstandighede waarmee ons voorgeslag te kampe gehad het. Op kerklike gebied was daar nie noemenswaardige probleme nie. Oor die algemeen was die prediking nie so hoogdrawend gestyld dat die jonger mense dit nie kon begryp nie. Hulle ouers was meestal kerklike meelewend en die preke is deur hulle as’t ware in die ouerhuise ingedra en onderling bespreek. In die privaat skooltjies het die Meester hulle ook onderrig in die Kategismus en die Prediking vir hulle meer verstaanbaar gemaak. Daar was ‘n noue samehang tussen Kerk, skool en huisgesin.
Voertaal
Op die gebied van die kulturele lewe was skole hul vernaamste probleem, veral gedurende die 19de eeu. Die Proklamasie van 1822 het meegebring dat Engels feitlik die offisiële alleentaal geword het. Die Ordonnansie 7 van 1843 het die Kerk offisieël losgemaak van Staatsbande, maar die Kerk het nie oor die finansies beskik om skole op te rig nie en was ook in beginsel gekant teen Kerkskole.
In die twee vry skole in die Kaap is selfs in 1822 nog in altwee tale onderwys gegee. Geskikte onderwysers was nie altyd bekombaar nie en pogings om die onderwys te verbeter was nie geslaagd nie. Engelse en Skotse onderwysers is ingevoer. Baie was nie bevoegd vir die werk nie en van swak gehalte. Hierdie stap het ook meegebring dat Hollands uit die skole verdwyn het. In ‘n baie kort tydjie nadat Hollands uit die skole verdwyn het, het die leerlingrol gedaal van 675 tot 300. Daarna het die skole amalgameer, maar in 1839 was die gemiddelde jaarlikse bywoning slegs 84.
Die Hollandssprekende bevolking het die Engelse bevolkingsyfer met min of meer agt teen een oortref. Uit ‘n Hollandsprekende bevolking van min of meer 60 000 was daar slegs ongeveer 400 wat met die Engelse taal sukkel-sukkel oor die weg kon kom en van hulle was daar skaars 150 wat Engels kon lees en skrywe. Die oorgrote merderheid Afrikaners was waarkynlik gretig om die Engelse taal te leer. Dit sou immers vir hulle soveel meer geleenthede en vooruitsigte meebring.
Reeds vroeg gedurende die Britse bewind is dit duidelik uitgespel wat die eintlike doel van die onderwys moet wees. Op 8 Desember 1812 skryf Sir John Cradock aan F E Turr, die Rektor van die Latynse skool: as a particular point of instruction: to promote and establish the cultivation of the English language to the greatest extent among your pupils of the highest rank as the foundation upon which they will in their future life best make their way. A perfect knowledge of the English language” is naamlik “indispensable in the administration offices. Hoe gretig die Afrikanerkind ook al was om ook Engels te leer, het die uitsluiting van Hollands in die skole vir hom ‘n agsterstand gegee wat hom in ‘n vernederende posisie geplaas het, veral omdat dit hom ‘n voorwerp van bespotting gemaak het as ‘n “ignorant Dutch”. Die vermoë om Engels te praat, is aan hom voorgehou as die gelyke van geleerdheid, sy gebrek aan Engels is die gelyke aan onkunde. Daarby was daar ook die vrees dat die Engelse skole die kind sal vervreem van die huisgesin en van die Kerk. Bewys daarvan dat die Afrikaner nie gekant was teen die aanleer van die Engelse taal nie, is die feit dat skole wat naas Engels ook Hollands geleer het, floreer het, terwyl die uitsluitlik Engelse skole ‘n kwynende bestaan gevoer het. Naas die Staatskole was daar in die Kaap die sogenaamde “Tot Nut” skool – gestig deur die Maatskappy tot Nut van’t algemeen – om o.a. aandag te gee aan “het gewigtig vak der opvoeding van de Jeugd en de verbetering van die Schoolwezen”. Hoewel soms gekla word van ‘n ledige lewensruimte veroorsaak deur gebrek aan leermeesters, het die skool in 1832 steeds 250 leerlinge op die rol gehad. In September 1833 is intrek geneem in ‘n gebou wat 600 leerlinge kon bevat en die inwyding is bygewoon deur 2000 mense. Teen die middel van 1834 was die leerlingtal 360 en die leerplan is uitgebrei om ook die praktiese kunste soos teken, sang en handwerk in te sluit. Algaande is dieskool gekortwiek deur finansiële probleme – die ondersteuning van die publiek was nie genoegsaam om die skool instaat te stel om met Staatsondersteunde skole mee te ding nie.
Tersiêre onderwys
Wat gevorderde onderwys betref, was die Afrikaner nog slegter daaraan toe. Deur bemiddeling van Predikante soos Dr Abraham Faure is Het Zuid-Afrikaansche Athenaeum in 1829 gestig. Die studente het onderrig ontvang in Hollands, Engels, Latyn, Grieks, Frans, Duits, Aardrykskunde, Sterrekunde en Matesis en in die Senior Afdeling is ook voorsiening gemaak vir leergange in natuurkunde, Logika en Sielkunde. Ook hierdie inrigting het met verloop van tyd ‘n Engelse karakter begin aanneem. Antoine Changuion wat uit Holland gekom het in 1831 as Professor in Nederlands het in 1842 die pos neergelê en na sy tyd is Hollands nie meer as medium gebruik nie. Die leerkragte is Professor genoem, maar die onderrig het tog nie meer behels nie as dié van ‘n middelbare skool nie.
Terwyl die getal Engels Openbare skole ‘n stilstand getoon het tussen die jare 1830-39 het die privaatskole meestal Hollands – gedurende daardie tydperk vermeerder van 39 tot 94. Benewens hierdie skole was daar ook die groot getalle Boere Skoolmeesters wat in klein privaatskooltjies diens gedoen het onder die Boerebevolking. So het in die distrik Caledon waar hierdie deel van die Krynauw-familie destyds gevestig was, sowat 50 onderwysers onderrig gegee aan tussen 300 en 400 kinders. Hoe beperk die gehalte van die onderwys ookal was, die kinders het nie vervreemd geraak van die gesinsverband nie, en die Kerklike band het vas en heg gebly. Nogtans het dit vir baie belowende Afrikaners ‘n agterstand meegebring wat vir hulle in ‘n ekonomiese wurggreep vasgevang het.