Daniël Eliza Krynauw se drome

Daniël Eliza Krynauw se drome

Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.

“Daniël Eliza Krynauw is op Stellenbosch gebore en die doop het aldaar plaasgevind op 8 September 1799. Hy is op 2 Mei 1824 te Paarl getroud met Susanna Claudine le Roux, gedoop 28 September 1800.  Haar ouers was ook in Stellenbosch en waarom die huwelik in Paarl voltrek is, is onbekend. Daniël en sy vrou het op een of ander tyd Stellenbosch verlaat en hulle gaan vestig op die plaas Twaalffontein in die distrik Caledon.

Dit is bekend dat met die anti-bandiete-agitasie van 1849 – Daniël een van die deputate was wat by die owerheid beswaar aangeteken het teen die vestiging van bandiete aan die Kaap. Van sy hand is daar ook ‘n beskrywing van drome wat hy tydens ‘n ernstige siekbed gehad het. Die eerste droom dra die opskrif: “Een droom dien ik, Daniël Eliza Krynauw gedroomt heeft in het jaar 1827 in den nact van 30 Januarie. Ik nu droomde dat ik aan het einde van myn leven was en ik lag op sterven.” Die tweede droom het plaasgevind op 30 Novemer 1836: “Toen bezochte de Heere my met een ziekbed”.

Dus beide drome was tydens ‘n ernstige siekbed. Wat die aard van die siekte was, is nie bekend nie. Mens kan maar net glo dat die siekte gepaard gegaan het met ‘n baie hoë koors, maar andersins gee dit ook blyke van ‘n geestestryd. Sy seun Stephanus het later aan sy kinders vertel dat daar drie dae en nagte pal by die siekbed gewaak is en dat hulle verwag het dat sy Pa enige oomblik sou sterwe. By geleentheid van die eerste droom was Stephanus slegs twee jaar oud, maar die tweede droom tien jaar later sou seker op sy jeugdige gemoed ‘n blywende indruk moes gemaak het.

Die drome sentreer hoofsaaklik oor die vraag van sy sterwensgereedheid. Dit gaan nie oor die vraag van geloofsekerheid nie, want as diepe benoudheid hom oorval, is daar by hom ook die oorweldigende blydskap dat as hy sou sterwe, hy by die Here sal wees. Dan skyn dit asof Satan en sy magte hom wil verhinder en allerlei versperring stel om by die Here te kom.

In die eerste droom kom hy te staan voor ‘n hek wat toegang verleen na ‘n baie mooi tuin: “maar het hek was dicht en toen ik door de tralies van het hek keek, zach ik een prachtige tuin die beplant was met allerlei zoorten van bloemen die er zeer fraai uitzagen en onder het zelfde waren er zeer fraaie lelies, zodat ik by myn zelfen dacht dat ik deze lang niet zoo schoon zacht gelyk deze waren. Ook kwamen my alles, boomen en bloemen die in de tuin stonden, blaauw van kleur voor. Toen dact ik dat ik in die Bybel las van hemelsblaauw, maar dit is tog echt hemelsblaauw van kleur”.

Hy beskryf ook die vrugte, byvoorbeeld, ‘n tros druiwe wat blou was, “gelyk de boomen en die bloemen in de tuin. Nadat ik nu dit alles zag, ontwaakte ik en het was dag”.

In die tweede droom meld hy dat hy te staan gekom het voor twee hoë berge, “waarvan ik de top niet zien kon”. Nêrens meld hy van pyn nie, slegs ‘n soort sterwensbenoudheid. Dan vra hy genade en dra sy vrou en kinders op aan die sorg van die Here. En dan skielik wod hy gewaar van dinge om hom, die slag van die horlosie en iemand wat sê dit is 12 uur. “Toen ik dat hoorde, kreeg ik ein slach aan myn hart, asof iemand met de vinger aan myn hart sloeg. Toen richte ik my op en zat overeinde op het bed en ik zuchte”. Dan volg sy dankbaarheid waar hy die Here loof – ales deur middel van tekste wat uit die skrif aangehaal word.

Mens weet nie hoe die psigoloë hierdie drome sou verklaar of interpreteer nie en of dit hoegenaamd met persoonlikheid te make het nie. Dit is in elk geval opgestel in taal wat getuig van raak seggingsvermoë en buitengewone talent vir ‘n boer van daardie dae. As daar frustrasies was, dan gaan dit hoegenaamd nie oor wêreldse dinge nie, eerder getuienis van ‘n teer, fyngevoelige gees. Hy het 84 jaar oud geword. In sy later jare het hy feitlik volslae doof geword – maar hierdie twee drome het gekom toe hy nog jonk en gesond was en daar niks fisies was wat op sy gees kon ingewerk het nie – behalwe dat in beide gevalle ‘n onbekende krankheid hom oorval het.

In sy doodsberig meld sy Predikant, Dr J G J Krige dat Daniël van jongsaf die Here geken en gedien het. Die berig getuig van die aansien wat hy in die gemeenskap geniet het. Deur sy innige Godsvrug het hy allerweë agting geniet. By afwesigheid van die Predikant het Daniël die diens in die Kerk gelei. Aan bidsonden en toespraken by andere godsdienstige gelegenheden heeft hy dikwels deelgenomen. Sy Godsvrug, sy voorbeeld as bidder en voorbitter sal in die gemeente gemis word. Ds Krige getuig dat as gevolg van sy doofheid kon ander nie met hom kommunikeer nie, maar Daniël kon steeds getuig van die liefde van die Here – soos hy dit deur sy lewe heen ondervind het.”