De Villiers ooms en tantes
Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.
(DWK se ma was Anna Maria Retief de Villiers, geb. 20/10/1863)
Charles Pritchard
“Johanna Hermina de Villiers was getroud met Charles Pritchard. Blykbaar het Charles as gevolg van swak gesondheid na die Kaap gekom in 1836 en in die Karoo son sy gesondheid herwin. Reeds in 1851 was hy lid van die Munisipale Raad en later verskeie male is hy gekies as Voorsitter. In die jare 1874 – 1878 was hy saam met Sir J C Molteno parlementslid van hierdie Kiesafdeling. Hy het die Kiesafdeling Beaufort-Wes ook in die parrlement verteenwoordig vanaf 1879 – 1883. Hy is oorlede in 1910 en sy vrou in 1909. Charles se Vader was Kolonel Henry Hugh Pritchard.
Toe Napoleon in 1815 na St Helena verban is, was hy een van die offisiere wat Napoleon moes oppas. Toe Napoleon in 1821 oorlede is, was die seuntjie Charles ses jaar oud en hy het as kindjie glo soms op die skoot van Napoleon gesit. Na die dood van Napoleon is die eetservies wat hy altyd gebruik het op ‘n veiling gesit en Kolonel Pritchard het ‘n deel daarvan gekoop en Charles het die Napoleon aandenkings geërf. Dit is later deur sy seun aan die Stadsraad bemaak en word in die museum in Beaufort-Wes opgeberg. Op Beaufort-Wes het Charles as Wetsagent praktiseer en sy seun Benjamin het hom hierin opgevolg. Benjamin Thomas Pritchard was vrygesel en eienaar van die bekende Pritchard-gebou regoor die N G Kerk in Donkinstraat.
Hy moes ook redelik musikaal aangelê gewees het want vanaf 1870 tot 1872 was hy die orrelis van die N G Gemeente. As kind het ek hom nog dikwels gesien, maar hy het swaar geloop en is ongeveer 1921 oorlede. In sy laaste jare en siekte het sy suster Penelope Kinnear, nee Pritchard hom versorg. Die weduwee Kinnear en haar dogter, getroud met die Prokureur Cyril Fanner het daar gebly vir geruime tyd na Benjamin, “Ou Ben” oorlede is. Prokureur Fanner is later as sekretaris van die Wetsgenootskap van die Kaap aangestel.
William Auret Pritchard
Benjamin Thomas se broer William Auret Pritchard was die bekende landmeter wat deel gehad het om ons land se grootste stad, Johannesburg, op te meet. Hy is op 1 Maart 1861 te Beaufort-Wes gebore en oorlede in 1947. Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, opgestel en uitgegee deur die Raad vir Wetenskaplike navorsing gee op p. 504 die volgende besonderhede:
William Henry Auret Pritchard (Ou Basie) was die twaalfde seun van Charles Pritchard en sy vrou Johanna Hermina de Villiers. Sy vader was 25 jaar lank lid van die Kaapse parlement en sy moeder was ‘n suster van Lord de Villiers, die eerste Hoofregter van die Unie van Suid-Afrika. Ook gegewens in die werk van C Pama oor die ou familie-wapens is foutief – daar staan: “Charles Pritchard trou met Hermina Johanna de Villiers, suster van Lord Henry de Villiers. Twee seuns. Die familie is grotendeels Afrikaanssprekend”.
Die getal seuns is hier korrek, maar een het blykbaar van die ander die gegewe ontleen dat Johanna de suster was van Lord Henry de Villiers. Die groot naslaanboek oor die ou Kaapse families saamgestel deur De Villiers, Theal en ander, is deur C Pama bygewerk en hersien en daarin verskyn haar naam as Johanna Hermina, die dogter van David Hendrik de Villiers en Anna Susanna Retief. Dit dui maar net daarop dat in standaard werke soos dié wat uitgegee word deur die Raad vir Wetenskaplike navorsing en self ook ‘n erkende genealogiese navorser soos C Pama, ook soms gegewens voorsien wat nie behoorlik gekontroleer is nie. Mens wonder ook of die afleiding “die familie is grotendeels Afrikaanssprekend” korrek is. Dit geld slegs die familie van William Henry Auret Pritchard, omdat die ander broer Benjamin Thomas nooit getroud was nie. William was getroud met ‘n nooi Le Roux. Hy wou nie in vegtende hoedanigheid aan Engelse kant aan die Anglo-Boere-oorlog deelneem nie “uit piëteit teenoor sy moeder en sy vrou se familie”.
Gedurende die oorlog was hy onder andere in bevel van die Konsentrasie kamp by Vryburg en na die oorlog is hy deur die Engelse met militêre eer bekroon. Na die oorlog was hy lekeprediker in die Baptise Kerk en later aan die hoof van die Jehowa-getuies. Dit is waarskynlik waar dat hy nie in vegtende hoedanigheid aan die oorlog wou deelneem nie – want met hierdie geloof moes hy ‘n pasifis gewees het. Of van sy nageslag later ook Afrikaanssprekendes opgelewer het, weet ek nie. Die feit is egter dat sonder hierdie navorsing, genealoë nie geregtig is om mense as Afrikaanssprekend aan te dui omdat hulle in die N.G. Kerk gedoop is in plattelandse gemeentes in ‘n tyd toe daar nog geen gevestigde Engelse Kerk was nie. Die suster Penelope Pritchard se nageslag is natuurlik Kinnear, maar ook hulle is uit en uit Engelssprekend.
Daniël Gabriël de Villiers en die ontwikkeling van Beaufort-Wes
‘n Oom van Ma wat ook vermeld moet word was Daniël Gabriël de Villiers omdat hy ‘n belangrike rol gespeel het in die ontwikkelingsjare van Beaufort-Wes. Sy woning was die bekende Matoppo House in Birdstraat. Hy en sy swaer, Charles Pritchard was vir baie jare afwisselend voorsitter van die Stadsraad. Jare lank het hy hom beywer vir die daarstelling van ‘n behoorlike waterskema. Toe die skema begin is in 1896, was hy in daardie jaar ook voorsitter van die Stadsraad. Hy het dan ook bekend gestaan as die Vader van die Waterskema. Hy was vir baie jare kassier van die Kerkraad en veral ‘n belangrike aandeel gehad met die Kerkbouskema”.