Lewensavontuur
deur A.C. Cillie
Die storie is in 1986 deur Wilhelm Krynauw van Stellenbosch aan Danie Krynauw van Bellville, verskaf. Dit is effens geredigeer.
Oom Dawie Krynauw het daar anderkant sy swaer, oom Klaas Lombard, geboer, oorkant die Bergrivier teen Porseleinberg. Daar was, in die jare waarvan ek hierbo vertel het, baie stories in omloop omtrent oom Dawie en sy kortgebakerde humeur en onverdraagsame streke – stories wat nietemin almal getuig het van ‘n unieke hoewel verdraaide en verkrampte humorsin.
Oom Dawie was ‘n baie kanp en netjiese boer: alles moes altyd op sy tyd en in die haak wees, of die duiwel was los. Sy twee groot seuns het hom met die boerdery gehelp, en die hemel bewaar hulle as daar êrens iets skeef geloop het.
So word vertel dat hy een oggend ‘n uur of wat na sonop op die land kom waar die seuns en die plaaswerkers besig was om te ploeg. Toe die een seun se ploeg by hom verbykom, sien sy pa dat die keelband van een van die esels loshang. “Hook!” skree die ou. Die ploeg gaan staan en die seun agter die ploegstert bewe tot in sy broekspype.
“Klaas, watter los ding hang daar onder die esel se keel?” vra die ou, skyn-onskuldig, aan die seun.
Die kom kyk toe en sê verboureerd: “Pa, dit was nog baie donker vanoggend by die inspan, en die werksmense het seker nie gesien dat die keelband nog los was nie,” en hy loop nader om dit vas te gespe.
“Nee, wag, wag! Roep die ou kêrel uit, en loop nader terwyl hy sy knipmes uithaal en oopmaak. “Dit is sommer ‘n los ding wat hier hang; hy hoort nie hier nie!” en met dié sny hy die keelband af en gooi dit daar eenkant in die losgrond. “Vaat!” skree die ou – en daar trek die ploeg weer langs die voor af. Maar die hemel bewaar daardie seun as die ou die volgende oggend weer op die land kom en daardie keelband is nie die vorige aand weer netjies aangenaai en die keer goed vasgegespe nie.
Oom Dawie was natuurlik net so ongenadiglik streng met sy werksmense. As een van hulle per ongeluk êrens op die akker ‘n klein bankie geploeg het, en die ou kom dit agter, dan stop hy die ploeg op die plek en kry die man agter die ploeg voor stok.
“Oubaas sien die grond is baie hard, nê ? Vra die ou skyn-vriendelik.
“Maar hoekom het die ploeg dan daar uitgespring? En hy wys na die bankie.
“Nee, oubaas, dit was ‘n ongeluk oubaas.”
“’n Ongeluk? Nee man, oubaas glo nie dit kan ‘n ongeluk gewees het nie. Die grond was maar seker te hard, Loop daar na die wa en gaan haal vir oubaas die kannetjie wyn en bring die dop ook saam”.
Met wankelmoed stap die man dan na die wa en bring die kannetjie wyn en die horingdop saam.
“Hier, hou vas die dop.” En die ou skink die dop vol rooibruin wyn. Dan vat hy die vol dop en sprinkel die wyn versigtig op die bankie uit. En dan nog ‘n dop, en nog ‘n dop, vyf of sesmaal agtermekaar.
“So -ja, jou gasie wyn vir die dag sal nou die grond lekker week maak. Middag, as die ander manne ‘n uurtjie rus, dan vat jy ‘n skaar en kom kap vir oubaas hierdie bankie netjies uit.”
By ‘n ander geleentheid weer, so word vertel, betrap hy sy werksmense dat hulle hul gereedskap staan en vashou, terwyl hulle na die eselwaens, wat daar naby in die hardepad agter mekaar resies jaag, staan en kyk. Dit was na die oestyd, en baie leë waens het elke dag verbygekom nadat hul vragte koring of hooi na Malmesbury of Wellington gery het.
“Aha! Oubaas sien die jaery daar in die pad is vir oubaas se mense so mooi. Dis vir oubaas net so mooi. Los nou almal jul gereedskap en loop staan almal op ‘n ry daar teen die muur van die kafhok, dan kan julle lekker die waens sien verbykom. Oubaas sal vir julle laat kos en wyn aandra, want oubaas is tog te bang daar kan dalk ‘n paar waens verbykom en oubaas se mense het hulle nie gesien nie!”
En daar moes hulle dan, in die snikhete somerson, in ‘n ry kersregop teen die wit muur staan, van die voormiddag tot laat die agtermiddag. Een ou het later vir Pa gesê:
“Baas, na ons daardie dag so gebars het daar teen die muur in die warm son, kan ‘n wa ons onderstebo ry, maar opkyk is min!”
Soos die ou op die land met sy seuns en sy werksmense aangegaan het, so het hy ook in die huis aangegaan met arme ou ta Annie.
Een oggend wou die ou sy skoene aantrek wat hy die aand tevore ouder gewoonte onder die bed ingeskuif het. Maar hulle was nie daar nie. Ou ta Annie het hulle kombuis toe geneem om skoon te maak en vergeet om hulle betyds terug te bring. Die ou het toe maar ‘n paar ander skoene aangetrek en niks gesê nie. Die aand toe hy kom slaap, het hy egter twee yslike osrieme saamgebring, agter deur die lussies van die skoene gesteek en hulle aan die styl van die bed vasgemaak.
“En nou, Dawie, vra ta Annie, toe sy in die kamer op die petalje afkom. Wat gaan nou hier aan”.
“Nee, Annie, my twee skoene loop mos snags rond. Ek sal nou kyk of hulle môre-oggend weer weg is hier onder die kooi as ek hulle wil aantrek.”
So was daar ook die Sondagoggend toe oom Dawie en ta Annie kerk toe sou gaan op Wellington, waar ds. Andrew Murray destyds die gevierde predikant was. Ta Annie het oom Dawie se onderklere sy borshemp en sy manel allesmooi netjies gestryk op die bed uitgelê gehad, en was nog in die kombuis besig om ook sy broek te stryk en ander werkies te verrig.
Toe sy daarna kamer toe kom, met die broek oor haar arm, was die manel, borshemp en onderklere nie meer op die bed nie, en oom Dawie skoonveld. Sy het die broek op die bed neergelê, en in die huis rondgesoek en geroep – maar al wat antwoord gee, is oom Dawie. Toe sy daarna, ten einde raad, buitentoe gaan, staan die kapkar klaar ingespan by die haakboom, en oom Dawie sit daar gesteweld en gespoord op die bankie – met sy platronde hardebolkuil op, sy manel, borshemp en lang wit onderbroek aan, en ‘n paar swart stewels onder aan sy voete.
Ontsteld spring ta Annie om, gaan haal gou die mooi gestrykte broek en bring dit kar toe. “Dawie, hier is jou broek, ek het dit gou gestryk. Moet tog nie so dwars wees nie, trek dit aan, ek kom nou!”
“Nee, Annie, dit kan nie my broek wees nie. Al wat ek op die kooi gekry het, is hierdie klere wat ek aanhet. Kom, klim in, laat ons ry. Netnou is ons laat vir die kerk.”
Al murmererend is ta Annie weer huis toe, maar sy kom gou terug, klim op, en daar trek hul op ‘n stywe draf na die dorp. So ver soos hul ry, soebat ta Annie dat die ou tog sy broek moet aantrek. “Wat sal die bure sê as hulle jou so langs die pad moet aantref.” Maar net verniet. Die ou sit daar met ‘n stroef gesig, piets die perde af en toe en hou die leisels styf.
Eers toe hulle naby die dorp kom, hou hy stil, kwansuis om die perde ‘n blaaskans te gee, en trek ewe tydsaam sy broek aan – tot groot verligting van die arme ou ta Annie.